Een jaar verby!

Presies een jaar nadat ek met borskanker gediagnoseer is!

Een volle jaar. Ek is dankbaar oor die geleentheid om te kan terugkyk en te weet dat die eerste deel van my kanker-reis afgehandel is.  Die deel van die uitvind daarvan, die skok, die chemo en die bestraling.

Ek is dankbaar dat ek met hierdie eerstye Nuwejaarsdag van 2010 weer doelwitte kon stel vir die Nuwe Jaar (so anders as 2009 toe ek nie herwaarts of derwaarts geweet het nie).

Maar ek weet ook dat ek nie een van die lesse wat ek geleer het op my kanker-reis tot dusver wil vergeet nie. En ek is dankbar dat die BLOG my die kans gee om met ander te deel. Iemand wat êrens op die reis is en bang is. Of sommer net ‘n mede-reisiger wat graag met iemand wil chat wat presies verstaan.

‘n Geseënde 2010 vir ons elkeen!

Add a comment Januarie 4, 2010

Ek hang in die lug na al die behandelings

Sondag 8 November 2009

Hoe voel ek nou?

In die middel van iets op pad na êrens. Of besig met uitsorteer of die êrens waarheen ek op pad is, eintlik nêrens is. Met die vrae oor wat die Here nou van my verwag. En hoe ek nou moet verder.

Oor drie dae en ‘n maand sal dit een jaar gelede wees wat ek die diagnose van kanker ontvang het. En waar staan ek nou op my reis?

By die plek waar ek ervaar almal wil hê ek moet antwoord dat dit goed gaan. Op daardie punt waar ek ervaar mense my wil laat voel dat alles nou oor is en dat die kans dat ek weer kanker sal kry verby is. Dat ek moet ophou dink aan kanker.

Maar waar is ek op my reis?

In die lugleegte na al die dramatiese behandelings. Op die ongemaklike plek van die hormonale behandeling deur medikasie. Dáár waar ek weet dat ek gehoor gegee het aan God en deur my boekie vertel het wat Hy vir my vertel het, soos Hy my in Jeremia 1:17-19 opdrag gegee het om te doen.

Maar oor dáár waar ek wonder:

  • Het ek genoeg vertel? Is daar ‘n ander manier waarop ek hierdie kankerreis moet gebruik tot voordeel van ander mense?
  • Wil die Here my kankerreis vorentoe voltyds gebruik of so tussendeur my gewone beroep? En indien wel, hoe?
  • Hoe moet ek voortgaan om my prioriteite te bepaal met die nuwe lewenslesse wat kanker my geleer het, terwyl alles verder net aangaan om my?
  • Wanneer gaan my gewone liggaamskragte weer terug wees, soos voor ek kanker gekry het?
  • En, as ek eerlik met myself moet wees, doodeerlik wil wees waar ek in stilte  sit:

 Wanneer gaan my kanker weer lewendig word?

 (Ek sal nie verbaas wees as die Here in Sy alwysheid besluit het om my verder te gebruik deur my kanker weer lewendig te maak nie. Dalk moet ek dit weer gebruik om Sy Naam groot te maak.  En ek weet nie hoe ek daaroor voel nie.)

In hierdie fase van die reis is een ding vir my duidelik: Mens weet nie! 

 En omdat daar nie soveel liggaamlike uitdagings is nie, val al hierdie vrae in ‘n vakuum van tydloosheid. Sodat jy hierdie onsekerheid saam met jou sleep deur elke dag.  Party dae onbewustelik.  Ander dae dra jy dit saam met jou op jou rug – dit is daar, maar versper nie jou uitkyk op die dag nie. Ander dae dra jy dit soos ‘n kindjie teen jou bors, beskermend toegevou in jou arms, omdat dié kanker deel van jou menswees geword het, deel geword het van wie jy is en hoe jy na die wêreld kyk.

 My wêreld het verander.  En ek ook.

Add a comment November 22, 2009

Hormonale medikasie

Die hormonale medikasie is ‘n groter aanpoassing as wat ek verwag het.  Miskien juis omdat ek verwag het dat alles nou oor sal wees.

Die horminale medikasie kan tog nie erg wees nie?

Die medikasie stuur my in ‘n vroeë menopause in. Dit laat my opgeblaas voel, laat my gewig aansit, stuur my emosies op en af … maar help my.

Die medikasie keer dat die estrogeen nie die kankerselle laat groei nie.

Nuwe fase, nuwe aanpassings, nuwe hoop.

Add a comment November 22, 2009

Wat nou?

Die chemo en bestraling is verby.  Die hormonale behandeling gaan voort. Nog vir 5 jaar. Wat nou?

Goeie vraag. Eenvoudig. Ek weet nie. Sonder waarborge. Die lewe gaan aan.  Net soos voorheen en terselfdertyd heeltemal anders. Vir die eerste keer in agt maande is ek sonder ‘n mediese span wat my elke dag of elke week moniteer. 

Met die eerste besoek aan die onkoloog na die bestraling verduidelik sy geduldig dat daar geen toets is wat werklik kan meet of al die kankerselle vernietig is nie. Soos dit ook met die lewe gaan.  Geen waarborge vir my nie. Ek sal moet vasklou  aan My God en my gesin se hand.

Vir die eerste keer in ‘n lang tyd verg die liggaamlike aanpassings nie die meeste van my energie nie.  Nou is daar tyd vir bepeinsing, vir diepdink, vir herfokus en herprioretiseer.

Die Here het aan die begin van my reis vir my Jeremia 1: 17-19 gegee met die opdrag “Gaan vertel vir hulle wat Ek vir jou gesê het”. En ek maak erns daarmee en bid dat die Here my sal gebruik soos Hy my nodig het.

 Wat nou? Ek weet nie…

Add a comment November 22, 2009

God praat luidkeels met my

Ek ervaar dat God luidkeels met my praat op my kankerreis. Ek leer Hom ken op ‘n ander manier as net Skepper of Heerser wees.  Ek leer van die intimiteit van ‘n verhouding met God en beleef fisies hoe die Here vir my sorg.  Ek leer hoe die Gees met my saamstap en Jesus my hand vashou. En ek beleef hoe ek selfs my weerbarstigheid voor God se Voete kan lê.

Ten tye van ‘n krisis praat God mos met mens op verskillende maniere. Danksy tegnologie, ook deur sms’e. Aan die begin van my kankerreis, stuur God vir my deur ‘n kollega Jeremia 1:17-19.  Hierdie verse word die rigsnoer van my reis. Ek kry ‘n klomp Bybelverse op my reis as bemoediging, maar hierdie een aan die begin van my reis staan duidelik uit en ek wéét net dat dít God se boodskap vir my is: 

Kry jou gereed, staan op,

en gaan sê vir hulle alles wat Ek gesê het.

Moenie vir hulle bang wees nie,

Anders laat Ek jou dalk verleë voor hulle staan.

Jy kan rustig wees.

Ek maak jou vandag ‘n versterkte stad,

So vasgeanker soos ‘n ysterpaal,

Of soos ‘n muur wat van koper gemaak is.

Jy sal sterk genoeg wees om jou teen ….. te handhaaf.

Hulle sal jou probeer onderkry, maar dit nie regkry nie.

 Ek is aan jou kant en sal jou beskerm. Ek, die Here, belowe dit!

(Nuwe Lewende vertaling, 2006)

 In my studentejare reeds het ‘n wyskop met die genadegawe om die Woord uit te lê, vir my geleer dat God jou daagliks lei deur jou Bybelstudie van daardie dag. Daarom besluit ek om veral in die eerste deel van my reis te fokus op Jeremia 1:17-19. Iemand het een keer gesê dat, wanneer mens snags wakker word en nie kan slaap nie, dit dikwels God se manier is om jou in Sy Nagskool te sit. En ek beleef my studentwees aan dié skool ook op my kanker-reis.

Ek bid God se Gees om die Woord vir my oop te breek, lees in afhanklikheid hierdie skrifgedeelte aandagtig oor en oor en wag dan vir die Gees om een gedeelte vir my uit te lig.  Dít wat my op daardie oomblik van die gedeelte opval.  Dan bepeins ek dit. So lei God my dikwels na ander Bybelgedeeltes wat daarby aansluit. Selfs die HAT word ingespan om die betekenisse van woorde te ontrafel en ons grote God gebruik ook die verklarende woordeboek om my lesse te leer.

Ek deel graag van die lesse wat ek geleer het en in daardie tyd so aangeteken het:

†     Ek is aan jou  kant  en sal jou beskerm. Ek die Here, belowe dit!”

Ek voel dikwels skuldig en onseker. Skuldig omdat ander se situasie erger is as myne en tog beleef ek hierdie deel vir my afgemeet, ook as erg.  Skuldig omdat ek nie terminaal is nie, terwyl jong kindertjies hulle stryd teen kanker verloor. Skuldig omdat ek dalk iets verkeerd gedoen het (ja ek weet dit is nie so nie, maar die duiwel plant tog slinks die saadjie wanneer ek lam voel). Skuldig omdat ek, alhoewel ek glo dat ook hierdie kankerreis van my deel van God se plan vorm, nogtans bang bly. Skuldig teenoor God.

 Téénóór God. Teenoor God moet tog beteken dat ek aan ‘n ander kant staan as waar God is. En hier kom sê God vir my dat Hy aan mý kant is.  Saam met my.  God is saam met my as party teen die kanker en die duiwel. Dit neem ‘n rukkie voordat die waarheid oopbars: Dit is die duiwel wat met oë verblindery my laat glo dat ek teen God kies en teen Hom rebelleer as ek negatiewe gevoelens beleef en dat hierdie gevoelens verkeerd is. In Fillipense 4:6 staan daar dat ons oor niks besorg of bekommerd moet wees nie en dat ons in alles ons begeertes deur gebed en smeking met danksegging aan God bekend moet maak.  Ook die slegte goed.  Ook die negatiewe goed.  Ook die vrae en die wonder. God is aan my kant, selfs in die twyfel.  Hy neem my nie daaroor kwalik nie – Hy verwag dat ek dit met Hom sal deel.  Dankie Here vir hierdie bevryding van die skuldig voel.

†    Vrede. Ek begin dink oor die betekenis van vrede, dáárdie vrede wat alle verstand te bowe gaan as ons ons lewens in God se hande plaas.

Ware Vrede is nie ‘n salige gevoel of die afwesigheid van konflik nie.  Dit is ook nie ‘n tevredenheid met my omstandighede volgens die wêreld se definisie nie. Nee! Ware Vrede is die vaste wete dat God in beheer is, al verstaan ek nie. Dit is die vaste wete dat God sáám met my is, ook in die wyse waarop ek kanker ervaar en beskou. Dit is die vaste wete dat ek ‘n burger van die Hemel is en dat níks my uit Sy Hand sal skeur nie. Ware Vrede is nie iets waarop ek my kan instel nie, nie iets wat ek as ‘n kitsresep in boeke sal kry nie. Ware Vrede kom nét uit ‘n intieme verhouding met God wat tekenend is van Fillipense 4:6 – gebed, smeking en danksegging.

†     In hierdie stryd hoef ek vir geen oomblik te twyfel dat ek oorwinnend anderkant sal uitkom nie. God is vol raad vir my hieroor: “Moenie vir hulle bang wees nie. Jy kan rustig wees.  Ek maak jou soos ‘n versterkte stad, so vasgeanker soos ‘n ysterpaal of soos ‘n muur wat van koper gemaak is.  Jy sal sterk genoeg wees om jou teen … te beskerm.  Hulle sal jou probeer onderkry, maar dit nie regkry nie.”  ‘n Hele paar keer op my reis trek my keel toe en word ek lam van angs. Wanneer die are nie wil oopbly vir die chemo-behandeling nie.  Wanneer die poort onder narkose ingesit moet word. Wanneer die naarheid nie wil oorgaan nie.  Wanneer die tamheid my oorval. In dié tye gebruik God die woorde van Jeremia 1 om my te herinner aan Sy belofte aan my.

†     Wat oorwinnend uit die stryd tree ookal beteken, selfs dít verander.  Oorwinnend is nie noodwendig vir ewig van kanker genees wees nie. Ek weet e nie presies wat dit beteken nie.  Vir my betekend oorwinnend bloot dat my wil nie meer saak maak nie en dat ek berus in God se doel en plan en oorwinning.  Oorwinnend beteken dat ek nie kán verloor nie, ten spyte van …

My vraag aan myself – ‘n worsteling wat steeds voortduur nadat die chemo en bestraling afgehandel is, is dat ek moet seker maak dat ek wel doen wat God vir my beveel in Jeremia 1 : “ en gaan sê vir hulle alles wat Ek gesê het.

Ek besluit om doelbewus oor kanker te praat, om dit ook vir ander makliker te maak, maar dalk meer nog vir myself. En die mense om my vou my toe in liefde.  My man, my kinders, my pa, my sussie, familie, vriende, kollegas en my organisasie se vrywilligers en personeel. Want ek beleef dat daar tye kom wat ek nie bid nie.  Soms wil ek net nie, soms kan ek nie, soms voel ek te skuldig om te bid (want baie ander kry baie swaarder as ek) en soms weet ek net nie hoe nie.  Maar dit is sulke tye wat, soos die Bybel sê, hulle gebede deur die Helige Gees gedra word tot in God se Gebedskamer. Ek kan nou nog nie genoeg dankie sê vir elke gebed nie. Dit dra my steeds.

En in verstomming beleef ek hoe die Gees self vir my met versugting intree en ek deel mag hê aan die Stilte van Sy Troonkamer.

Dit is juis hierin wat die bevryding lê. Al weet mens met tye op jou reis nie hoe nie, gaan die gebede voort en tree Hy self vir jou in. Genade onbeskryflik groot!

Add a comment November 22, 2009

Laserstrale deur my lyf

Chemo is verby. Bestraling lê voor. Wat nou? Die reis raak nou lank.  Almal sê dis makliker as chemo. Is dit?

Ek kry longontsteking – die weerstand is maar laag.  Genadiglik het diabetes my al lankal geleer dat ek dadelik en selfs voortydig simptome moet aanspreek om te keer dat siektes te ver ontwikkel voordat ons medies ingryp. Toe ons longontsteking ontdek, is ek al aan die beter word. Só is ek die Woensdag tuis met siekverlof toe ek my eerste bestraling moet kry. En weer is my God só vertroostend dat Hy my hier in die 21ste eeu prakties kom help. Op ‘n unieke manier wat net vir my bedoel is:

Ek kry ‘n sms vanaf een van my direksielede vanuit die Noord-Kaap wat nie weet dat my bestraling daardie dag begin nie.  En in die sms sê sy dat ek tog Liedboek 422 moet lees, dít sal my dra. Ek ken baie Liedboek liedere, maar nie hierdie een nie. Om eerlik te wees, is ek te lui om op te staan en die liedboek agter goed uit die rak in die studeerkamer te gaan haal. Ek sê so ewe dankie vir die Here vir die spesiale woord wat in liefde na my gestuur is, maar laat dit daar. Binne 10 minute daarna kry ek ‘n tweede sms van ‘n geloofsvriendin aan die Weskus, met geen verbintenis aan die eerste een nie. En toe ek haar sms lees word ek yskoud: “Vriendin, ek weet nie hoekom nie, maar die Here sê ek moet vir jou sê om Liedboek 422 te lees!” En ek hardloop na die boekrak om Liedboek 422 te kry. Hierdie Lied handel daaroor dat ons een met die Gees is en dat ons ons aan die Gees moet oorgee.  En ek wéét My Verlosser leef!      

Was maar benoud met die eerste bestraling. Voel verwese eensaam toe ek alleen in die bestralingskamer gelaat word.  Ek verlang weer na my ma. Ek is skoon benoud en vra die Here om, as dit Sy wil is, asseblief nie my te laat ruik as my vel brand van die laser nie. (Ek het toe mos nie geweet dit is nie soos dit werk nie.) Toe die masjien begin met die bestraling, maak dit ‘n sagte skelgeluid vir die volle duur van die behandeling (van maar net ‘n paar sekondes).  En ek sing uit my hart Liedboek 422, soos God my gewys het ek moet doen.  Ek wy my toe aan Hom en wéét dat dít die manier is hoe ek die vrees te bowe sal kom. Singend, juigend en oorwinnend.

Ek kry dit reg om my bestraling na werk te reël, want die lewe gaan aan.

Die Here stuur engele oor mens se pad en by die bestralingseenheid is dit ook nie anders nie. God gee my drie baie spesiale mense wat voor en na my bestraal word.  En hierdie drie word noue bondgenote op my kanker-reis.  Ons leef immers saam met mekaar ses weke se Maandae tot Vrydae.  Ons daaglikse sessies word sielsgebind. Ons geniet ons gate uit en getuig kliphard oor God se grootheid en goedheid, so tussen die gelag en geskerts deur.  In só ‘n mate dat die personeel na ons drie verwys as die “Happy Bunch” wat die saal opvrolik.

Dit is hier waar die Here deur Elize, my nuwe nederige-geloofsreus vir my die boekie gee met my verjaarsdag :”Just enough light for the step I am on!” van Stormie Omartian waarin ek weer ontdek hoe God die krag gee vir daardie trappie waarop ek daardie dag is.  Nie vir die hele stel trappe nie, maar net daardie spesifieke trappie waarop ek staan. En ek gaan op daardie trappie bly, totdat ek die les geleer het wat God in Sy alwysheid weet ek nodig het om aan te beweeg na die volgende een. Maar Hy bly langs my, op daardie trappie en keer dat ek afval. Here, gee tog dat ek nie afval en van die trappie afklim sonder U nie.  Nooit nie!

Dit is genadiglik so dat die newe-effekte van bestraling vir my minder is as met die chemo-behandeling. Tog is die tamheid steeds daar en tref die bestraling maar die lyf met ‘n vuishou. So halfpad deur die sesweke-behandeling ry ek een middag terug huis toe in spitsverkeer. Sommer goed opstandig in my binneste. Vieserig en weerbarstig.  Aggenee Here, wanneer is dit nou genoeg?  Ons twee is al vyf maande besig met hierdie intensiewe behandeling.  Is dit nie genoeg nie? Wat het ek in elk geval só verkeerd gedoen dat dit nou só lank vat om te leer? Wanneer is genoeg genoeg? En onmiddelik voel ek weer piepklein en skuldig dat ek nou so omge-ellie is.

Die volgende oomblik speel sing die CD die volgende woorde:   “And the Voice of Truth says: This is for My glory! And the Voice of Truth says: Do not be afraid! “   En ek prys die Here wat met my hart oor die radio kom praat terwyl ek ry. Ek hou dikwels verder vas aan hierdie waarheid wat God só spesiaal vir my kom oopbreek. Wat met my gebeur, ook hierdie kanker-reis, is vir Sy Glorie en Almag.  En die weerbarstigheid verkrummel en ek buig sielsdankbaar aan Sy Voete vir die voorreg om te kan bydra tot sy Glorie, soos die Oorwinningslied triomfantlik sing: “Die glorie en die almag van ons allerhoogste Heer…”.

Vir die eerste vyf weke word die hele bors, onder die arm en die boonste gedeelte van die ribbes bestraal. Die laaste week fokus die bestraling slegs op die gedeelte van die bors waar die knop uitgehaal is. Ook vooruit is daar Genade met dié behandelingsplan.  Want my vel begin skeur en disintegreer in die laaste week veral onder die arm.   Aanvanklik net ‘n klein puntjie, wat vorder tot ‘n rou kol wat met ‘n spesiale room besmeer moet word.   ‘n Diep borriegeel wat al wat klere is verkleur. Maar dit bring wondelike verligting. Tydsaam, maar tog. Die Genade lê daarin dat God toelaat dat my vel eers in die laaste week skeur, sodat die bestraling kan voortgaan omdat dit nie op die rouheid fokus nie.

En weereens is die behandeling oor en slaak ek ‘n sug van verligting. Ek ís sterk in Sy Krag. Met ‘n effense beklemming – wat nou?

Add a comment November 22, 2009

My hare : Die offer van my hart

Vreemd hoe eiesoortig die uitdagings op mens se lewensreis is, hoe groot die offer voel wat jy op ‘n gegewe tyd moet maak. Of lê die les júís daarin dat daar geoffer moet word?!

 Een van my grootste verliese op my kanker-reis was die verloor van my hare. Dit het my bang gemaak.  Hartseer. Opstandig. My gestroop. My alleen en kwesbaar gelaat.  Maar tog oor oorwinnend laat uittree met die besef – ek is in Sy Genade regtig sterk. 

Vreemd hoe eiesoortig die uitdagings op mens se lewensreis is, hoe groot die offer voel wat jy op ‘n gegewe tyd moet maak. Of lê die les júís daarin dat daar geoffer moet word?!

Die besef – my hare gaan uitval!

My David-tussen-Goliat-se-oë klippie van die werklike besef-beleef dat ék kanker het, was dáárdie oomblik toe dit onomwonde na my deurdring dat ál my hare gaan uitval. Nadat die onkoloog my simpatiek ingelig het oor die newe-effek van haarverlies, het ek nugter seker gemaak wat die pad vir my sou inhou:  Waarom die hare uitval (chemo maak die haarfollikel los van sy bed in die kopvel), hoeveel daarvan (alles!), wanneer (selfs so vroeg as vanaf die tweede chemo-behandeling) en hoe ek dit kan keer (mens kan nie!). Rasioneel, soos mens krisisse wil hanteer om te bewys dat jy tóg in beheer is in hierdie onafwendbare spiraal van gebeure.

My heftige reaksie op die feit dat my hare gaan uitval en dat die ondenkbare met my gaan gebeur (dit is binne daardie oomblikke in tyd vir my dat ek ook my wenkbroue gaan verloor!) verstom selfs myself. Ek hou van netjies lyk en is redelik in die openbare oog, maar spandeer tog nie ure voor die spieël nie. Kan dit wees dat my eie-ek só groot is dat hierdie afskaling nodig is om perspektief te kry?  Sommige mense naby aan my word ook onverhoeds betrap. Ek stoei met die emosies en ervaar dat mense nie verstaan nie en dat hulle my nie die kans wil gee om my emosies van verlies so “kaalkop” te verklaar nie.  En juis dít laat my weer skuldig voel.  Want ek gaan nie dood nie, net my hare gaan uitval. Máár dit is mý hare wat gaan uitval – en ek vind geen vertroosting in hulle lomp raad dat dit nie so erg is nie en dat die hare weer sal teruggroei. Ek begin moedeloos terug antwoord dat die hare eers moet uitval, om te kan teruggroei en dat dít is waarin die verlies lê.

Baklei daarteen

Hierdie stryd dwing my in die vroeë oggendure op my knieë en ek worstel met God. Ja, ek is kwaad, sommer diep-kwaad. Ek probeer dan op my manier só hard om goed te doen, om myself te gee, om ander se lewens te verryk. Ek vra die Here reguit (en hard!) of dit nou regtig nodig was om toe te laat dat dinge só ver gaan. Dit is ‘n intense tyd van worstel en mor en huil en verlies hanteer en weer van vooraf daarmee begin.

As ek terugdink ervaar ek ook nou dat God my hand vasgehou het selfs in daardie tye. Dat Hy geduldig was en my die ruimte gegee het om met Hom te mág worstel.  Ek, die een met die stryd oor haartjies wat gaan uitval, teenoor Hom, die Skepper, wat die beweging van die planete en sonnestelsel het om aan te dink.

Die openbaring oor my hare-offer

Dit is in een van hierdie vroeë worstelings met God, dat Hy die stryd vir my oopbreek met die helder besef deur Sy Gees dat die Vader van my wil hê dat ek myself moet offer. Nie net hoe ek lyk nie, maar om in beheer te wees en om sterk te wees, Soos Abraham vir Isak moes offer.

“… en gaan sê vir hulle alles wat Ek gesê het.”

En saggies maar klinkhelder drup die besef op my hartseer dat ek nie op hierdie kankerreis is vir myself nie. God wil my reis gebruik om ander te help, om Sy Naam groot te maak.  Ek ervaar werklik dat God my die keuse gee: Ek kan my hare hou, of dit verloor – my keuse. Tesame met die insig: as ek my hare hou is my getuienis-geleentheid soveel minder en beleef ek hierdie reis nie ten volle nie. Here, neem eerder my hare om U te verheerlik.  Hoe weet ek nie!

Op daardie oomblik sou ek nooit kon raai dat God juis beskik het om hierdie offer van my te gebruik vir my bediening nie. Ek moet erken dat ek op hierdie reis verbaas was oor God se keuses. Ek is gewoond aan publieke optredes en om te praat voor mense kom vir my natuurlik. Aanvanklik was ek oortuig dat “… en gaan sê vir hulle alles wat Ek gesê het.” sal beteken dat ek gevra sal word om voor ander op te tree en só my reis met hulle te deel, maar dit gebeur nie. En toe beteken “… en gaan sê vir hulle alles wat Ek gesê het.” dat ek met ‘n hare-bediening moet begin wat my stoutste verwagtinge oortref het.

Voorbereiding vir haarverlies my groot plan

Ten spyte van al hierdie innerlike oortuigings en insigte, bly die fisieke voorbereiding vir die haarverlies ‘n stryd. Dit mag die Here se wil wees dat ek my hare gaan verloor, maar ek sal sowaar nie toelaat dat dit my onverhoeds betrap nie. Ek spandeer geen verdere tyd daarop om te verstaan watter biologiese prosesse gaan plaasvind nie – punt is, die hare gaan uitval en klaar. Die Here is getrou en verskaf in hierdie regmaak-tyd van my vir my soveel heerlike lag-oomblikke waarin ek my verkneukel oor Sy goedheid:

*    Direk na my vroegoggend deurbraak met die Here kry ek uit die bloute dié sms van ‘n kollega – iemand wat nie weet van die harestryd nie: “Die Here tel elke haar op jou hoof.” En ek lag heerlik omdat God weer die tegnologie inspan om my te wys dat Hy, Skepper van ook follikels, in beheer is!

*    Die oggend wat ek besluit om vir my ‘n pruik te gaan soek, is my knieë bewerig.  My hare het op daardie stadium uit verhouding gegroei, maar ek kry dit nie oor my hart om dit te laat sny nie. Die oggend van die pruik-pas reël ek dat die haarsalon my hare net bloudraai.  Nog nooit so iets gedoen nie. Ek land by ‘n dametjie wat ek glad nie ken nie. So tussendeur die trane verduidelik ek aan haar die belangrikheid dat ek mooi moet voel wanneer ek die pruike gaan oppas. Ek kan nie anders as om stil te lag toe sy met soveel wysheid verklaar dat sy reken dat dit ‘n bedekte seën is dat ek my hare gaan verloor en nuwes kry nie.  Want, bevestig sy wat ek mos goed weet, my hare is só dun dat nuwe hare net ‘n aanwins sal wees! En ek sê dankie vir dié engel wat God gebruik om aan my perspektief te gee.

*    Ek vra vir Sus om my bondgenoot te wees in die kies van pruike. ‘n Meer ondersteunende maar reguit bondgenoot op wie se oordeel ek een honderd persent kan vertrou, sal ek nie vind nie. Die pruikplek beïndruk my met die netjiese voorkoms en professionele diens. Pruik na pruik word gebring, nadat ek my keuses maak uit katalogusse. Ek besef eers later hoe sorgsaam die verkoopsdame was toe sy met die pruik aanpas slag tussen my en die spieël kom staan, totdat die pruik mooi in plek is voordat ek myself kan bekyk van hoek tot kant. Ook hier wyk die lekker lag nie. Met die aanpas van een van die pruike merk Sus droog op dat, indien ek daardie spesifieke pruik gaan neem, dit ‘n baie duur keuse sal wees. Verbaas vra ek haar daarna uit, aangesien die verkoopprys vir my heel billik lyk. Sus se antwoord is soos altyd prakties: Indien ek daardie pruik neem, sal ek my hele klerekas moes aanpas . . . om soos Tina Turner te lyk!

*    Die pruik koop was baie makliker as wat ek gedink het. Nie een traan nie. (Sus erken later dat sy baie benoud was dat ek histeries sou raak, daarom dat sy my vooraf gewaarsku dat ek een emosionele uitbarsting mag hê en dat sy daarna selfs vir my ‘n ruk en skud sou gee indien dit nodig blyk te wees.) Met die pruik veilig in die kattebak, gaan ons na die Waterkant in Kaapstad vir die tweede deel van die voorbereiding. Die praktiese aanloop van benodigdhede, maar ook vir ‘n bederf-dag om die intensiteit van die reis te versag. En dit werk.

*    Nou op die lys is die bandanas (op verwysing van ‘n kollega wat ook al die kankerreis meegemaak het).  Nie enige bandanas nie – dié met ‘n rekkie agter wat keer dat die kopdoek nie van die kaal kop afskuif nie. Ek maak ‘n voorraad bymekaar.

*    My spesiale bederf is onbepland. Terwyl Sus kyk na truie by ‘n spesialiteit wolstalletjie, vra ek die verkoopsdame of sy ‘n wolmus kan aanbeveel wat ek kan dra wanneer my hare uitval. Weer word ‘n engel op my pad geplaas. Die verkoopsdame se ryke advies oor veel meer as net wolmusse, kom uit haar ervaring van saamreis op haar suster se kankerreis.  En ek loop daar weg, ‘n ryk vrou, met ‘n wolmnussie gemaak van haaskonyn hare – só sag dat mens wegraak in die wol. Hierdie wolmus raak later baie aande my knus kombersie as die koue en moedeloosheid om my vou.

*    My berader-vriending is daar met praktiese raad en wys my hoe om kopdoeke van t-hemp materiaal te maak en as tulbande te dra. Min sou ek weet dat my nuwe bediening juis hierin sou lê!

Harestryd kom in rukke en stote

Ek het verniet gedink dat ek die hare-stryd gewen het. Ek besef gou dat die stryd in rukke en stote kom. Die doel is om met elke ruk en stoot daardeur te werk en só daardie trappie te oorwin. My eerste oorwinning was dat ek vrede daarmee gemaak het dat my hare wél gaan uitval. Die tweede ruk en stoot was dat dit my onverhoeds kan vang – en onverhoeds wil ek nie gevang word nie! So, terwyl ek nog al my hare het, op ‘n Donderdag na die tweede chemo-behandeling, bind ek ‘n pragtige serp om my kop (en maak seker dat my hare bietjie uitsteek sodat die mense kan sien dat ek die serp uit eie vrye wil dra). Dit is met die klere aanpas slag in die winkels en die gedurige kyk in die winkelspieël (wat mos opsigself ‘n beproewing kan wees) dat ek sien hoe my hare bietjies vir bietjies begin uitval.  En my hart krimp – die tyd is amper hier.

Die Vrydag dwing ek myself om met die pruik werk toe te gaan, met net die een doel voor oë :  om dit te dra sonder dat ander weet dit is ‘n pruik. Vroegoggend vertel ek net aan my sekretaresse-engel dat dit ‘n pruik is. Die res van die personeel toets ek. Mensig maar dit is ‘n ding. Dit voel heeltyd of my pruik rondskuif. Wanneer ek my kop krap, wanneer ek oor my voorkop vee, wanneer ek oor die telefoon praat, wanneer ek my baadjie uittrek. Sommer heeltyd. Of so voel dit.  En net om seker te maak van die teendeel, verskoon ek myself gedurig na die badkamer waar ek in die spieël loer en die pruik regtrek en weer regtrek en oor regtrek. Net om na ‘n paar minute weer van vooraf met die ritueel te begin. Maar dit werk soos ‘n bom.  Dit is eerder my vreemde gedrag as my voorkoms wat my kollegas snuf in die neus laat kry.  Een kollega is oortuig dat ek ‘n pruik dra, net omdat my regte hare nog nooit so mooi gelyk het nie! Die ander een weet dit is ‘n pruik toe ek op haar besorgde vraag ontkennend antwoord dat ek nie blaasontsteking het en daarom die badkamer so gereeld moet besoek nie! Aan die einde van daardie Vrydag lag die oorwinning vir my – ek is reg en in beheer.  Die pruikdra-dae kan maar kom. (Of kan dit?)

Die gevoel van oorwinning kry momentum na die selgoep byeenkoms daardie aand. Onder die skerp badkamer lig, op die punte van my tone in die hoë spieël, besluit ek dat dit tyd is om al my hare al te sny. Eers pluis ek die hare. Pluis, pluis, pluis.  Bietjie vir bietjie. Tot die hare nie verder self wil pluis nie. Voëlverskrikker se moses en ek besef dat ek sal moet orde skep uit hierdie chaos. Ek laat my ook nie daardeur onderkry dat my naaldwerk skêr net soek is nie.  My seunskind se skoolskêr sal maar net die ding moet doen. Ek knip metodies en presies daardie hare wat ek kan bykom en sien en klim daarna doodmoeg in die bed.  Die volgende oggend kry my seunskind die “voorreg” om die onderste gedeelte van die hare op my my agterkop af te sny en Manlief die boonste gedeelte. Ek maak hulle deel van die stryd omdat dit belangrik is dat hulle ook ‘n bietjie beheer moet kan uitoefen oor hierdie verlies.  Seunskind vertel later aan my hoe moeilik hy dit gevind het en ek besef opnuut dat hierdie kankerreis vir elkeen van ons veldslae inhou.

Kyk hoe lyk ek nou!

Ewe skielik is daar soveel gesig. Baie. Oral waar mens kyk. Om verby die spieël te stap word ‘n berekende aksie. Soms, as ek goed voel, staar ek uitdagend na die nuwe volgesig vrou met ‘n ek-sal-jou-wys kyk in my oë. Soms, is die kaalte van die spieëlbeeld net te kwetsend vir ‘n lang kyk. Soms, kyk ek eerder glad nie. Veral nadat die wenkbroue ook uitval en dit vir my voel of my voorkop nou vir ewig en ewig aanhou, soos die slotreël in die Onse Vader (…vir ewig en ewig – Amen).

Ek besef gou dat die oorwinning daarin lê om te maksimaliseer op dit wat ek hét. “Accessorize” raak die oorwinningswoord. Ek meng en pas my kopdoeke om direk aan te sluit by my klere, laat my juweliersware weer daarby aansluit, kry lang oorbelle wat ek met selfvertroue dra, verf die gesiggie en kleur die lippe in beduidende skakerings. En God gebruik hierdie prentjie oor en oor om getuienis vir Hom te lewer en ander te help.  Hierdie prentjie en die talle komplimente wat ek hierdeur kry, gee dikwels vir my die aanknopingspunt om ander in seer te help, om advies te gee en Sy Naam uit te dra. Dikwels sonder om ‘n woord te uiter.

By die chemo-saal moet ek weekliks verduidelik hoe ek die kopdoeke so behendig kan bind. Aan die einde van my chemo-reis besef ek dat hierdie praktiese verduidelikings nodig is.  Na vele gebid (en die onthou van die voortdurende soeke na die wyse waarop ek gehoor moet gee aan God se opdrag aan my “… en gaan sê vir hulle alles wat Ek gesê het.”) word my hare-bediening gebore.  Ek noem dit          † Just Grace! Ek ontwerp ‘n brosjure oor haarverlies wat ek oorwinnend noem: “I’m too sexy for my hair!”  Hierin verduidelik ek die redes vir die haarverlies, gee waardevolle wenke oor die proses en wys met foto’s hoe om die kopdoeke te bind. Ek begin met die vervaardiging van die kopdoeke en weet dat hierdie God se bediening is. Hy gebruik nie my natuurlike talente en vermoëns om te getuig nie. Nee, Hy gebruik naaldwerk (wat ek kan, maar glad nie van hou nie) en my hare-offer (waarteen ek so gestry het), as die kern van my vertel aan ander van God. My moslem-vriendin wat ek by die chemo-saal ontmoet verkoop die kopdoeke vir my en bel my gereeld as aanvullings nodig is.  Saam met die kopdoeke deel ek spesiale sjampoe uit wat haregroei stimuleer, asook Christelike literatuur vir kankerlyers.

God seën my veelvuldig. En ek voel dit veral in die dankbaarheid in baie oë as hulle ervaar dat ek verstaan oor die hart- en sielestryd wat met haarverlies gepaard-gaan, iets wat ek dikwels net in hulle oë sien, omdat woorde valse bravado’s is.  

“… en gaan sê vir hulle alles wat Ek gesê het.” Ek maak so, Here.

Add a comment November 22, 2009

Chemo’s: Die veldslag en die oorwinnings

Die oumense het blykbaar gesê: Wat nie doodmaak nie, maak sterk. En ek is seker chemo sal in hierdie kategorie val! Maar mens leef deur die chemo’s. Jy deurwinter die chemo’s. Dit voel of dit jou gaan doodmaak.  Of dit vir ewig en ewig gaan aanhou. Maar tog, op ‘n dag (soms eers maande later), is dit verby.

Wie vat jy saam chemo-saal toe

My reisgenote na die chemo-saal kies ek versigtig. Met die eerste chemo neem ek my man saam om die eerste onbekende tree op hierdie chemo-reis saam met my te neem.  Hy is immers die een wat altyd daar is, wat my bystaan en dra. My tweede reisgenoot is my sussie, wat met haar opgeruimdheid vrolike geel strepe deur die chemo-besoek verf. En daarna gee die Here vir my ‘n derde reisgenoot. Tot op daardie stadium ‘n kerkvriendin, wat in haar stille menswees my anker en hartvriendin word.

Onkologie-personel word soos bloedfamilie

Die onkoloog en personeel van die chemo-saal is engele met hul sorgsaamheid en lag.  Eens vreemdelinge word familie, met wie ek die noute van kankervrees en chemo beleef. Hulle word ingeweef in my leefwêreld deur die weeklikse chemo-sessies. En selfs na die 12 keer bly hulle in my hart sit. Die besoeke aan die chemo-saal word skaduwee-koeltes in die weke wanneer die regte wêreld (wat net aangaan ongeag wat met my gebeur) my skroei.

Mede-kankerlyers verstaan en reik uit

God gee my ‘n Lizzie-vriendin met my eerste besoek. ‘n Vrou wat vir die derde keer sedert 1990 borskanker kry. Met die eerste ontmoeting vra sy my reguit of ek  geestelike ondersteuning het, want die reis sonder God is onmoontlik. Ek leer soveel by haar oor oorgawe en Goddelike diens. Sy maak vroeër as ek klaar met die behandeling, maar kom daarna elke week getrou om my te kom bemoedig tot ek met my behandeling klaarmaak. Hy bring ook ‘n vrou oor my pad wat naby my bly en dieselfde tyd kanker kry en my lewe verryk.  ‘n Spesiale kollega wat in remissie van kanker is, beteken baie want geen verduideliking is nodig nie, haar omgee opreg en haar advies deurleef. By hulle kan ek waag om al daardie dinge te vra waaroor ek te skaam is by ander.

Watter sin kan ek inbring in die chemo-sessies

Ek gebruik aan die begin veral die chemo-tyd om my kinders aan die Here op te dra en elke keer vir hulle in te tree met voorspraak. Om te keer dat my liggaam nie ‘n allergiese reaksie kry nie, kry ek binne-aars ‘n anti-allergiese middel wat my spoedig daarna heeltemal benewel totdat ek huis toe moet gaan, so vier ure later.

‘n Wonderwerk – God is by my

 n Sel-vriendin maak vir my ‘n oranje mosaïek kruis om teen my muur te hang. (Ek beplan ‘n kruismuur in my nuwe huis en het die vriendin al gevra om my te help om self ‘n mosaïek kruis te maak, maar kon toe nog nie oor ‘n kleurskema besluit nie.) Sy kry toe die opdrag in die Gees om vir my ‘n oranje kruis te maak. Toe sy die kruis vir my gee net nadat die knop in my bors verwyder is, is die boodskap treffend:  Hoe beproewing mens van ‘n growwe klip deur die Kruis se Krag en Genade louter (uitgebeeld in die kleur oranje) tot ‘n gladde spoelklippie. Nog méér treffend is die rol wat kleur in God se plan speel! Met my eerste chemo-behandeling wag ek vir die chemo-gif (wat hulle “Red Devil” noem blykbaar vanweë die rooi kleur) om in my are in te drup. En dis sleg, want dit maak mens naar en siek. Toe ek en Manlief opkyk na die vloeistof, is dit nie rooi nie, maar oranje.  Dieselfde oranje as my kruis! En ek sien hoe God net daar in die chemo-saal prakties vir my wys dat Sy Kruisdood-krag ook ín my is om die chemo te kan hanteer! Deur die loop van my kanker-reis put ek telkens Krag uit my mosaïek kruis met die oranje-loutering.

 Belewing van my eerste chemo

My eerste chemo is vreeslik. Ek dink dit is omdat ek só gespanne is en elke verandering in my liggaam met valkoë dophou. My man en seun hou my hand vas en vee my trane af. My pa vertroos my telefonies met woorde en baie stil gebede. Ek verlang na my ma wat my vyf jaar van te vore ontval het, en ek wens om haar koel hand op my rug te voel as die naarheid deur my ruk. My sussie se sms-woorde die eerste aand toe ek laat dooduitgeput en moedeloos vir haar laat weet dat ek nie meer kan nie, sal my altyd by bly: My lief, ek smeek God sonder woorde!

Hoeveel chemo’s

Ek is veronderstel om ses drie-weeklikse chemo-behandelings te kry, maar na drie keer besluit die onkoloë dat ek die laaste nege weke weekliks chemo sal kry.  Die effek sal blykbaar meer genadig op die liggaam wees en laat mens met minder newe-effekte.

My newe-effekte

Ek beleef egter steeds die meeste van die newe-effekte:  Uitermate moeg- en tamheid, seertjies in die mond en neus (soms so erg dat ek vloeistof deur ‘n strooitjie moet drink), senu-prikkels in die hande en voete wat voortduur lank nadat die behandelinge voltooi is, naarheid, braking en hoofpyne. Wat my veral vang, is die geweldige tamheid, ‘n moegheid wat ek myself vertel seker iets is van die verlatenheid wat die Bybelse Job beleef het. Ek moet daaraan gewoond raak dat aksies nie hierdie moegheid veroorsaak nie en dat rus nie hierdie moegheid verlig nie.

 My are raak moedswillig

 My are raak moedswillig en die toediening van die binne-aarse chemo raak al hoe moeiliker. Ek word aangeraai om onder narkose ‘n poort bo my bors te laat insit, waardeur die binne-aarse medikasie direk in ‘n aar toegedien kan word. Eers veg ek verbete teen nóg ‘n vreemde voorwerp in my lyf. Ag nee, wat te erg is, is te erg, of so maak ek myself wys. Redelikheid seëvier toe die drie-weeklikse chemo-sessies na weeklikse sessies omgeskakel word.  Ek word geseën juis deur hierdie instrumentjie waarteen ek eens so weerbarstig baklei het. Verby is die weeklikse stryd om verbete ‘n aar te probeer vind vir die binne-aarse toediening van die medikasie. Dit maak die wêreldse verskil! Ek is só entoesiasties daaroor dat ek nie eens sal omgee om gratis ‘n verteenwoordiger van poorte te word nie. Ook hierdie worstelingtjie gebruik die Here, deurdat die onkoloog nou mense na my kan verwys wat baie bang is om ook ‘n poort te kry. Ek kan só goed hul vrees verstaan. En my Godstorie laat hulle beter voel. Dankie Here!

Geen chemo is ooit dieselfde nie

Nooit geweet dat my lyf elke keer op die chemo anders reageer nie. Mens raak maar net nie gewoond aan chemo nie.

Plakaat help ons almal

My liggaam reageer elke keer anders daarop. My seun maak vir my ‘n plakkaat wat ons teen die gangmuur opplak. Hy noem dit “Net Beter” en skryf daarop dat ek nie bekommerd moet wees nie, God sal my beskerm soos die Power Puff Girls die stad beskerm (strokie karakters op DSTV) ! Op die plakkaat kry ons die voorreg om elke keer na ‘n behandeling, wanneer die ergste newe-effekte verby is, daardie behandeling dood te trek en langsaan te skryf hoe ons dit ervaar het (Seunskind eerste, dan Manlief, dan ek):

(1)  Dit was ‘n emosionele “rollercoaster”! *Hoera eerste een is verby; gelukkig kan ons op God vertrou. *Dit was ‘n fisieke en emosionele uitmergeling wat baie swaarder was as waarop ek my voorberei het. Genade en gesin se liefde het my toegevou.

(2) Yeah, dit voel of dit beter raak!!! *Dankie, dankie Here; Ons kan U net loof en prys!!! *Tweede chemo was ‘n kopstryd; deur die Genade het ons goed oorwin, dankie Here!

(3)  ‘n Groot teleurstelling! *Baie moeilike een, baie lank geneem maar einde ten laaste klaar. *Hierdie een wou nie omgaan nie – die naarheid het aangehou en aangehou en aangehou. My siel geknak.

(4)  Dit was K-ugly. *Ook maar nie lekker nie – Saterdag en Sondag maar baie moeilik; ek is moedeloos as gevolg van my magteloosheid. *Eerste weeklikse chemo op Donderdag: Ek sien min van Mechiel [seun] se optrede by die Waterkant. Naarheid en maagkrampe!!!

(5)  Senuweeagtig, wag lank alleen! [Ek kry ‘n poort en kom die aand eers 23:00 by die huis.] *Wat ‘n helse lang dag – hoop nie daar is weer so ‘n een nie. *Slegte chemo, baie naar – kry “port” onder narkose. Manlief hou my hand vas.  2 Kron 1:20.

(6)  Vinnig en “wonderful”. *Fantasties – oënskynlik nie meer so kwaai nie; dankie liewe Heer, U is met ons! *Die naarmedisyne het wonderlik gehelp – haleluja, net baie baie moeg.

(7)   Asof daar nie eens een was nie. *Genadiglik weer ‘n goeie keer. *Paasfees be-sonder vertroostend met goeie lyf en goeie gees.

(8)   Baie moeiliker, maar ten minste nog net ‘n paar oor. *Raak al hoe minder – slegs 4 oor! *Baie gou chemo gehad, maar newe-effekte vanaf Saterdag tot Woensdagaand – net handvol chemo’s oor.

(9)   Dankie tog, net 3 oor! *Blyer by die week – vertrou en glo net. *Makliker gegaan – einde in sig, genade groot!

(10)  Dit was soos ‘n wonderlike gewone week. *Ons wil net sing en juig. *Hierdie keer was daar geen gevoel van maagkrampe nie – was ‘n hemelse  en genade-ervaring.

(11)   Ons is so naby! *Nie sleg nie – sien uit na die laaste een! *Jer 1:17: “En vertel hulle alles wat Ek gesê het …”.

(12)   Uiteindelik dis verby!!! *Hoe wonderlik is dit nie – dankie Here dat ons op U kan vertrou. *Vreemde gevoel om klaar te wees.

Chemo is verby

Dit gaan verby. En sal ook met jou krisis. Juis met die vasstaan bring God die vertroosting vir ons elkeen – Hy is dieselfde gister, vandag en more.

Ja, die chemo is uiteindelik verby na vyf maande en ‘n vreemde gevoel.  Op ‘n manier het die ritme van die besoeke aan die chemo-saal my veilig laat voel. ‘n Slaak van verligting. En net daarna weer die intrek van my asem vir die spanning oor die onbekendheid van die volgende fase van behandeling wat voorlê: Bestraling.

Add a comment November 22, 2009

Om te hoor ek het regtig kanker

Die uitslag is hier. My kop en hart moet hoor en aanvaar ek het kanker. Maar hoe nou?

Terug by die onkoloog in Januarie voorsien die Here weer mildelik. Ek verneem dat geen masektomie nodig is nie. Net chemo en bestraling en hormonale behandeling daarna. En ek is só dankbaar! Die rekenaarprogram dui self grafies vir my aan hoe die waarskynlikheid persentasiegewys verminder dat ek binne die volgende 10 jaar aan kanker sal sterf, sou ek die onderskeie behandelings neem.

Maar kanker laat my koes-koes met die werklikheid.  In die onkoloog se spreek-kamer lyk chemo glad nie erg nie. Of so dínk ek. Om ‘n basislyn vir my liggaam te kry voor die behandeling ‘n aanvang neem, moet ek bloedtoetse, xtrale en sonars laat neem. Dit is in die koel hospitaalgang wat die Here ‘n ginekoloog-geloofsvriendin  in my laat vasloop. En dit is met die verduideliking van die chemo se newe-effekte aan hierdie engel, dat die werlikheid van kanker-hê soos die Dawidklippie van ouds my tussen die oë tref:  EK HET KANKER!

My reaksie is só heftig, ek vang die mense om my heel onkant. Almal buiten my berader-engelvriendin. Sy is geduldig toe ek telefonies uitvaar oor die goor advies dat haarverlies nie so sleg is nie en dat dit sal teruggroei. Sy verstaan toe ek siels- uitgeput voor haar in die onkologie-spreekkamer sit en my vrese uiter, agter die bravado van ‘n glimlag of twee. En dit is nie net haar beradingswoorde wat die pyn versag nie, maar ook haar Geesvervulde woorde én haar trane oor my seer. Ons albei besef dat die Here haar aan my gee, ook in haar professionele menswees.  Hy het haar immers twee maande van te vore (toe kanker nog nie eens deel van my leefwêreld was nie) na die onkologie-spreekkamer gestuur in ‘n nuwe betrekking. Ek waardeer só hierdie sorgsaamheid van die Here.

 Ek besluit om doelbewus oor kanker te praat, om dit ook vir ander makliker te maak, maar dalk meer nog vir myself. En die mense om my vou my toe in liefde.  My man, my kinders, my pa, my sussie, familie, vriende, kollegas en my organisasie se vrywilligers en personeel. Want ek beleef dat daar tye kom wat ek nie bid nie.  Soms wil ek net nie, soms kan ek nie, soms voel ek te skuldig om te bid (want baie ander kry baie swaarder as ek) en soms weet ek net nie hoe nie.  Maar dit is sulke tye wat, soos die Bybel sê, hulle gebede deur die Helige Gees gedra word tot in God se Gebedskamer. Ek kan nou nog nie genoeg dankie sê vir elke gebed nie. Dit dra my steeds.

En in verstomming beleef ek hoe die Gees self vir my met versugting intree en ek deel mag hê aan die Stilte van Sy Troonkamer.

Dit is juis hierin wat die bevryding lê. Al weet mens met tye op jou reis nie hoe nie, gaan die gebede voort en tree Hy self vir jou in. Genade onbeskryflik groot!

Add a comment November 22, 2009

Worsteling in die stille ure

My uitslae is nie dadelik gereed nie.  Dit is amper Kersfees en ek moet wag. Wag vir die uitslae.  Ek beleef soveel emosies. En dit word worsteltyd en binnetoe-kyk-tyd. in die stille ure van die nag veral. Dán word die veldslae gelewer. 

Nie doelwitte stel

Die aanbreek van die Nuwe Jaar is ‘n vreemde ervaring vir my. My goeie georganiseerde self het die behoefte om oudergewoonte my doelwitte vir die jaar te beplan. Pleks daarvan kan ons as gesin net kniel en hierdie reis in God se Hande plaas en die Heilige Gees smeek om ons daarvan bewus te maak wanneer ons dit terugruk uit Sy Hande.

Worsteltye en alleentyd

Dit is veral in die vroeë oggendure in die sitkamer of op my stoep wat ek my worsteltye onbevange het.  Dán klim ek oor my ringmure en waag dit buite, versigtig en bang. Dit is dán wanneer ek in die doodse stilte oopoë breek voor die onsekerhede en voor die wat-nou’s en vrae en nie-weet-nie’s. Van die belewing dat die dood nie nodwendig eendag en ver is nie. Ek weet nie wat ek voel nie en ek weet nie wat ek ervaar nie. Maar één ding weet ek wel – en dit is dat God by my is en my vertroos.  ‘n Vreemde ervaring vir my.  Hy is nie net die God wat skep en regeer nie, Hy is mý Pa, wat my nader trek veral in die nagstilte en op Sy skoot laat sit. Vir lang tye sit ons net so en word my binneste kalmer. Tot ek sterker voel om van Sy skoot af te klim en weer die wêreld in die oë te kyk.

Manlief laat my in dié tye alleen, maar wroeg in die kamer in stilte om sy skok, seer en onsekerhede só te verwerk dat hy weer sterk kan wees as hy my sien.  En sy hart breek in stukkies as hy later stil inkom en my sien ruk in trane, soos ek probeer verwerk en verstaan.

Skuldig voel

Om skuldig te voel, is een van die emosies wat gereeld deel van my reis word. Skuldig omdat ek nie sterf nie. Skuldig omdat ek nie ‘n masektomie het nie. Skuldig omdat ander my probeer vertroos deur gereeld op te merk dat dit nie so erg is nie en dat daar ander is wat baie swaarder kry.

Skuldig omdat dit vir my erg is!!

Soms ook skuldig teenoor God. 

Ek leer tog op my reis dat mens moet probeer om nie so skuldig te voel as dinge vir jou te swaar word nie, al vertrou jy God.  Hy verstaan, want Hy was ook al op Sy reis op só ‘n plek soos hierdie.

Mense

Ek besef baie mense weet nie hoe om die situasie te hanteer nie.  En ek moet leer om die omgee ook in hulle onbeholpenheid en lomp woorde wat soms kwes, raak te sien en te waardeer.

 Maar hulle krap my dikwels om.  Of dalk is dit omdat ek deur hulle reaksie of woorde stoei met myself.  En met die kanker. En met God.

Add a comment November 22, 2009

Die knoppie moet uit

Uitsny. So vinnig moontlik.  Hierdie dodelike knoppie wat my lyf kan siek maak moet uit.  Ons moet kan sien wat binne aangaan. Hoe erg is erg – die prognose? 

Die Heilige Gees begin my voorberei vir my kanker-reis, deur my ‘n paar dae voor my operasie William P. Young se boek “Die Shack” te laat lees. En vir die eerste keer verstaan ek prakties met hart, siel en verstand iets van hoe die wese van God saamgestel is. (Ja, ek weet “Die Shack” is ‘n storie en nie noodwendig die waarheid nie.  Maar dit is Gees-geïnspireerd en gee my ‘n verstand-manier om ietsie kleins van die Godsbegrip te laat insien.) God se Nabyheid en Krag word drie keer meer wanneer mens besef dat Hy God Drie-Enig is. 

En dit is met híérdíé Pappa, Jesus en Gees wat ek die gang afgestoot word na die teater. Ek voel hoe elkeen van die Goddelike Drie-Eenheid my vashou en versterk, sodat alle vrees verdryf word. Ek voel Hulle nabyheid só naby. Só naby dat ek voel hoe Hulle my hand vashou en saam met my op die trollie ry. Om die waarheid te sê, lag ek en die dokters só heerlik voor ek in die teater ingaan dat ek, terwyl ek narkose kry, dankbaar in my hart uitroep “Dankie Here vir U groot Genade en Beskerming!”.

Die borsknoppie word suksesvol verwyder. Ek is drie dae in die hospitaal en ervaar geen werklike ongemak na die operasie nie. Daar is soveel waardering vir elke besoek, dierbare familie en vriende, sms’e, blomme. Dit is wáár wat ons predikant-vriend altyd sê:  Die kerk is nie ‘n gebou nie.  Ons is die Kerk.  Ons moet op aarde Jesus vir mekaar wees. En almal omvou my só met liefde, dat ek Jesus se Arms styf om my voel.

Ek het ‘n vreemde ervaring met die Reach for a Dream-vrou wat my na die operasie kom besoek. Sy is blykbaar onder die indruk dat ek ‘n masektomie gehad het en is (so voel dit vir my)  kinderlik ongelukkig toe sy agterkom dat dit nie die geval is nie. Eke k voel skuldig oor die dan blykbaar nie erg genoeg is nie.

Ek word ontslaan en moet nog vir drie dae die dreineringsakkie dra, voordat dit verwyder word. Die dra van die dreineringsakkie is die enigste nagevolg van die operasie. Ek en Manlief ruil bedkante, sodat die dreineringsakkie links lê en ek dit oor die bedkassie se laaiknop kan haak.

Dr  Michaelovski gee terugvoer

Selfs aan die begin van my reis leer ek dat kanker terselfdertyd verligting én spanning is.  Ek trek my asem in van spanning wanneer ek hoor dat ek het kanker het en slaak ‘n sug van verligting wanneer die kankerknoppie uit my bors verwyder word. Net om weer my asem in te trek van spanning wanneer ek besef dat ek 14 dae sal moet wag voor ek die uitslae van die toetse sal kry weens die naderende Kerstyd. Op hierdie stadium is die kans op ‘n masektomie kleiner, maar nog nie weg nie.

 

Add a comment November 22, 2009

Vertalslag aan ander: Ek het kanker!

Die skok is só groot op jouself dat jy nie eens die reserwes het om hierdie skoknuus hardop te herhaal nie. En nou moet jy jou regmaak om hierdie nuus met die mense naaste aan jou te deel.

Al bly ek skuins oorkant die dokter se spreekkamer, voel dit pynlik lank voor ek in my kombuis in my dierbare man se oë moet kyk en sonder ‘n omhaal van woorde uitblaker: Ek het kanker! En die stilte van die skok met hartsnikke klief deur die lug.  Rou snikke, myne en syne. En my 13-jarige engelseun se oë verstar. Ek vertel hom in die kamer, maar weet hy al, want hy kon dit hoor aan die rouheid van die snikke en die diepte van die stilte daarna.

Ons drie staan nog styf teenmekaar, toe die telefoon lui en my man my verslae meedeel dat ons groot seun in Bloemfontein gekaap is. Liggaamlik het hy niks oorgekom nie. Dank die Here! (Kop sug verlig dat daar darem nog erger seer as myne is en trek die muur weer styf oor my kop.) Die volgende uur word oorheers deur die praktiese reëlings van Manlief wat Bloemfontein toe moet ry. Sy hart skeur uitmekaar om my alleen te los, maar Kop oortuig hom dit is die regte ding om te doen (en dit gee my kans om tot verhaal te kom). (Op die ou end tree die Here se Voorsienigheid in en kom hy twee ure later terug na ‘n hartgesprek met ons seun, dogter en skoonseun.)

Doodkalm vertel ek die vriende wat skakel en verneem na die uitslae van die toetse, en ervaar dat ék die een is wat troos, wat verduidelik en wat insig ontwikkel waar skok hulle nie toelaat om dit te glo nie. En ék voel beter.

Mechiel, my seun, herinner my aan een van die waarhede wat ons hom geleer het, toe hy my aanpraat omdat ek wegskram van die gevreesde word “Kanker” en praat van my “siekte”: Mamma, julle het my geleer dat mens eers vir ‘n probleem ‘n naam moet gee, voordat mens dit kan hanteer. Noem dit kanker, want dít is wat jy nou het.

Ja dit is.  Ek het kanker. Dankie Seun, dié waarheid pas ek toe deur die loop van my reis. Ek wil jou aanmoedig om dit ook te doen. Noem jou reis op die naam. Veral voor ander mense wat ongemaklik en bang is dat hulle jou seermaak indien hulle na enigiets anders as jou “toestand” of “situasie” verwys. Kyk jou reis vierkantig in die oë. (Dit laat mens veiliger voel as jy God se wapenrusting aan het, voor jy die kykwerk doen.)

My ma het my vyf jaar gelede ontval. Ek en my pa het ‘n noue verhouding.  Maar hoe werk dit nou? Ek kan tog nie net bel en sê: Hallo Pappa – ek het kanker nie.  Ek het hom nie eens vertel van die naald-biopsie in die bors nie. Boonop moet hy die heildronk instel by vriende se huweliksherdenking die Saterdag.  Ek en Sus vergesel hom daarheen.  Nie ‘n woord oor die kanker nie. Tjoepstil.

Maar Sondagmôre kan ek dit nie langer wegwens nie.   Ek ry na Pa en probeer die nuus versag.  Al wat help (so dink ek) is om ten volle in beheer te wees van die vertelslag en om feitlik en emosieloos die nuus oor te dra. En die skok en seer is duidelik in Pa se oë en woorde. Maar ek kan nie nou nog daaraan ook dra nie.  Hierdie stryd is op hierdie oomblik vir my te fel. Ek sal my moet afsny.

Add a comment November 22, 2009

Om die diagnose kaalvuis te hoor!

Niemand is ooit heeltemal reg om te hoor dat jy iets makeer nie.  Iets ernstigs.  Iets soos kanker. Dit gebeur met ander. Nie met jou nie. Ek was nie reg daarvoor nie.

Ek het nooit voorheen besef dat my kop my hart beskerm  nie. Altyd gedink ek is in beheer van my emosies. Ek is immers in my beroep ingestel op emosies, so ook op my eie. Maar ‘n paar keer op my reis beleef ek hoe my kop klanke uitdoof om dinge nie te hoor nie, dinge wat my hart nog nie reg is om te aanvaar nie. My kop gee bietjies van die waarheid deur, in hanteerbare grepies,  om my hart voor te berei op sagter houe sodat ek nie katswink getref word nie.  Net nie al die houe op één slag nie. Maar die spreekkamer bel en versoek dringend date k my afspraak gemaak vir Mandag vervroeg na Vrydagmiddag, want dokter móét my sien.  Ek vertel vir niemand van die dringendheid nie. Ek bêre hierdie inligting diep binnekant. Ek neem self eers my seun na ‘n model-oudisie. 15:00 klop ek aan by die dokter en wag dat sy vir my sê dat ons meer toetse moet doen.

 Klanke verdoof en ek hoor net my simpatieke huisdokter se stem

…K – A – N – K – E – R…

 En ek voel hoe ek kaal hand my veiligheidsmure om my optrek.  Oor my bene, oor my skouers en oor my kop. Heeltemal toe, ek maak myself heeltemal toe, met ‘n kloppende hart binne. Doef, doef kan-, doef, -ker, doef…

 Dit kan tog nie! Daar is nog stappe nodig voordat on shier is.  Ons moet eers nog toetse doen. Eers daarna sal ons dalk by die punt kan kom waar ons kan besluit dat dit kanker is.  Nie noual nie. Dit is te vinnig.

 Ek glo dat dit op híérdie punt is, wat die Heilige Gees toe vir my intree by God en vir my bid. Want ekself kan nie. Ek weet nie hoe nie.  Ek weet nie wat nie. Ek weet net nie.

 Dat ek kop-omhoog uit die spreekkamer kan uitstap en selfs ‘n grappie met die ontvangsdame kan maak, gee my bietjie beheer. Ek hou die rante van my veiligheidsmuur styf om my vas.  En ek sal dit nie laat sak nie! Ek is tóg in beheer. (Kop glimlag wrang vir Hart en laat my dit glo, want ek smag só daarna om in beheer van iets te wees.)

 Ek sit geruisloos in my motor. Lamgeslaan. Onvoorbereid. Wat nou? Na wie toe kan ek ry? Waarheen kan ek gaan om net my asem terug te kry van die vuishou op my maag? Maar ek sien kans vir nêrens heen gaan nie. Net huis toe. Waar ek veilig voel.

 Met die terugkyk wéét ek dat God Drie-Enig my op daardie oomblik omvou het. Met die uitstap uit die spreekkamer het Jesus my hand gevat toe ek na my motor in die parkeerterrein stap. En die Vader het saam met die Heilige Gees my hart, wat Hy geskep het, in Sy sagte Hande geneem, dit toegevou en my kop op Sy Skouer laat rus.

Add a comment November 22, 2009

Ontdek die knoppie

‘n Knoppie in die bors. Nogal seer, so dit is nie kanker nie. Dankie tog, of is dit wel?! Ek bly ongemaklik hieroor. Uit die wegspringblokke op my kanker-reis.

Augustus-maand. Wind-maand: 

Ek voel-voel die knoppie in my bors.  Nogal seer.  Seker ‘n spiertjie of ‘n ding (“ding” definieer ek nooit vir myself nie).  Dié met wie ek dit deel verseker my dat as dit seer is dit nie kanker kan wees nie, want borskanker is gevoelloos. Kop spring in en laat my dit glo.  En dis reg so. Dis makliker so. Wel, die knoppie is seer, so dit is niks “slegs” nie. (Op daardie stadium sny Kop die word “Kanker” uit my woordeskat – ons is mos nie dáár nie!) Êrens langs die pad neem Hart oor en oortuig my om weer dokter toe te gaan en ek voel selfs verlig om ‘n mammogram en ultrasoniese toets te laat doen. Daarmee sal Hart mos vir Kop kan oortuig als is reg. Want dit is mos?

Oktober-maand. Lente-maand:

Doef, doef, doef, doef. Kop sê die uitslag is nie sleg nie.  Die dokters wil net seker maak. Ek moet net ‘n monster van die knop laat optrek deur ‘n naald.  “Been there, done it…” en dít was glad nie erg nie. Hart wil dit só graag glo, dat Kop haar toelaat.

Desember-maand. Son- en see-maand: 

Kop is halstarrig op hierdie Vrydag. My vakansie begin Maandag. Sy rem aan die realiteit van die dokter wat met groot erns spesiale reëlings met die laboratorium tref om binne ‘n paar uur die uitslae van die toets te kan kry.  Sy beur weg van die werklikheid van die spreekkamer wat my versoek om my doktersafspraak te vervroeg omdat “dokter daardie middag reeds met my móét praat”. Sy klou met albei hande vas.  Maar moet laat los toe Hart met ‘n snikkreet dr Jenny se woorde “Dis kanker, ek is só jammer!” laat weergalm in die binnekamer van my hart. Só hard laat weergalm dat Kop dit hoor.

 

Add a comment November 22, 2009

Met die wegtrek…

Was jy al daar?

Op ‘n plek waar jy wil wegsink in jou veilige plek,

omdat die plek op jou reis

net te seer maak,

te bang maak,

jou net neer sit op ‘n plek waar jy nie verwag nie,

of eenvoudig net nie wil wees nie?

Ek laat jou ‘n entjie saamloop op my reis omdat ek glo dat God my hierdie opdrag gee.

Dit is my gebed

dat jy tussen hierdie bladsye vir God sal ervaar en iets van Sy Genade en Sorg sal beleef.

Mag dit iets in jou of ‘n geliefde se lewe beteken!

Add a comment November 15, 2009

Waarheen nou?

Gee jou epos adres om te hoor van die nuutste op my kanker-reis

Join 12 other subscribers

Reiskaart

Nuutste inskrywings

Foto’s

Praat met my!